Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 03 JUNIE 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

STIL SLEUTEL

Dit spyt ons om die afsterwe van Johan van der Mecht, ZS4VDM, op Sondag 27 Mei na ‘n ernstige motorfietsongeluk aan te kondig.

Ons betuig ons innige meegevoel aan sy eggenote Esme, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

OPDATERING VAN KRAGLYNTELEKOMMUNIKASIE NOU OP DIE WEB

LANSERING VAN SUMBANDILASAT VERTRAAG

NUWE ZU-ROEPSEINE OP DIE LUG!

HOU BY DIE BANDPLANNE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

OPDATERING VAN KRAGLYNTELEKOMMUNIKASIE NOU OP DIE WEB

Tydens verlede week se Presidentsnet, het SARL-President, Graham Hartlett, vertel van die opdatering van die stand van kryglyntelekommunikasie in Suid-Afrika. Die volledige teks is nou beskikbaar op die web by www.sarl.org.za, klik op PLC in die linkerhandse vertikale spyskaart.

Die mees onlangse toets het aan OKOSA bevestig dat KLT ‘n inherente steuringsvermoë het en dat dit in nuwe tipetoetsspesifikasies vir KLT reggestel moet word. OKOSA het ook erken dat hulle die steuringsklagteproses moet versterk en het die EMC-werkgroep van die TC80 SABS-komitee gevra om aan tipetoetsspesifikasies te werk en hoe om steuringsklagtes te hanteer soos dit voorkom.

Dit word aanvaar dat hier spesifikasies slegs ‘n interimmaatreel sal wees en nie internasionale spesifikasies vooruitloop nie. Sodra daar op internasionale standaarde besluit is, sal die interimspesifikasies hersien en in lyn gebring word. Dit word verwag dat ‘n internasionale ooreenkoms oor KLT-steurings, hoe om dit te meet en aanvaarbare perke te stel nog ‘n redelike tyd gaan neem.

Die SARL-webbladsye oor KLT sluit audiosnitte, asook ‘n skakel na ‘n videosnit, in.

IS JY GERAT VIR DIE JEUGDAGAKTIWITEIT OP 16 JUNIE?

Die SARL se Jeugdagaktiwiteit is besig om momentum op te bou. As jy of jou klub beplan om gasheer te wees vir jongmense om met Mark Shuttleworth via amateurradio te praat, moenie wag nie, bespreek nou ‘n gleuf deur ‘n e-pos te stuur aan armi@sarl.org.za. Laat ons asseblief weet waar jy ‘n stasie gaan oprig en die aantal leerders wat jy glo gaan bywoon. Die lewendige skakel sal beskikbaar wees op 145,750 MHz in Pretoria, 145,650 MHz in Durban en plaaslike herhalers in Port Elizabeth en Kaapstad. Beperkte HF-skakels sal beskikbaar wees. Stuur vir ons soveel moontlik inligting oor jou aktiwiteit. Vir klubs wat ‘n stasie by een van die FET-kolleges wil oprig, volledige inligting is reeds aan klubvoorsitters in die SARL-brief gestuur.

Die week voor hierdie gebeurtenis, sal riglyne op die web beskikbaar wees.

LANSERING VAN SUMBANDILASAT UITGESTEL

Weens administatiewe probleme is die die lansering van SumbandilaSat uitgestel. Daar is nog dokumente wat voltooi moet word voordat die lansering kan voortgaan. SA-AMSAT wag vir die amptelike verklaring deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie.

KOMPETISIE-UITSLAE

Die Herfs QRP Sprint is op Sondag 22 April gehou. Die kompetisiekomitee het 5 logs ontvang. Jan, ZS4JAN, neem die voortou met 1 640 punte, gevolg deur Andries, ZS6VL, met 864 punte, Ian, ZS5IAN, met 720 punte, Pierre, ZS6BQS, met 560 punte en Franz, ZS6EU, met 480 punte.

Die ZS3/ZS4 40 Meter Sprint is op Sondag 06 Mei gehou en die kompetisiekomitee het 7 kompetisielogs en 1 kontrolelog ontvang. Jan, ZS4JAN, is eerste met 97 punte, gevolg deur Allan, ZR1AAH, met 74 punte, die Bloemfontein RAK met 60 punte, Marius, ZS4MP, met 46 punte, die Sasolburg ARK met 42 punte, Ian, ZS5IAN, met 41 punte en Bradley, ZS5BG, met 39 punte. Denis, ZR6DNS, het 'n kontrolelog ingestuur wat 16 punte werd was.

Die SARL Hamnet 40 Meter Gesimuleerde Noodkommunikasiekompetisie is op Sondag 04 Maart gehou. Tot op datum het die SARL-kompetisiebestuurder geen uitslae ontvang nie.

NUWE ZU-ROEPSEINE OP DIE LUG!

Die Magalies Radioamateurklub het die nuwe ZU-radioamateurs met raad en daad bygestaan en binne een week nadat die nuwe jong radioamateurs hulle roepseine verkry het, is 12 stasies op die lug geplaas! Deur die toewyding van Louw, ZS6LME, en Theo, ZS6ATO, het hulle binne rekordtyd 'n aantal tweedehandse radios geherprogrammeer en die uisetkrag to 20 watt beperk. Met die hulp van Marten, Z6ZY, is daar letterlik "huisbesoek" gedoen om seker te maak dat alle radios en antennas korrek opgestel en in 'n werkende toestand is.

Intussen het die nuutgestigte klub by John Vorster Tegnologiese Hoërskool ook 'n eie roepsein naamlik ZS6JVT bekom. Die nuutgeboude radiosentrum sal volledig toegerus wees met die nodige HF- & BHF-toerusting en sal op jeugdag amptelik deur Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, om 08:30 geopen word waarna die jong amateurs amptelik hulle nuwe radiostasie met trots gaan bedryf.

ZS6JVT nooi een en almal uit om op jeugdag by hulle aan te sluit vir 'n dag vol gebeure en opwinding. Daar gaan selfs gepoog word om met Mark Shuttleworth kontak te maak.

HOU BY DIE HF BANDPLAN

Radioamateurs in Suider-Afrika word herinner om by die IARU se HF-bandplan, wat op 1 Januarie 2006 in werking gestel is, te hou. Die bandplan is beskikbaar vir aflaai vanaf die SARL-webtuiste by www.sarl.org.za. Laai assbelief 'n kopie af en versprei dit tussen klublede en maak seker dat jy die verskillende toekennings verstaan.

Die toekennings per band is bereken volgens die maksimum bandwydte in hertz en gebruikers moet verseker dat hulle uitsendings binne die bandwydte bly.

Daar is opgemerk dat daar stasies is wat of buite die band werk of foon in GG-toekennings gebuik. Die laagste verstelling vir foon op 160, 80 en 40 meter is 1 843, 3 603 en 7 043 kHz. Die Suid-Afrikaanse toekenning vir 160 meter is 1 810 tot 1 850 kHz.

OM BY BHF- EN UHF-BANDPLANNE TE HOU IS BELANGRIK OM MAKSIMUM GEBRUIK VAN DIE SPEKTRUM TE BEREIK

BHF- en UHF-bandplanne is ontwerp ten einde maksimum gebruik van die spektrum wat aan amateurradio toegewys is te bereik en steuringsvrye bedryf en uiteindelik die groot bevrediging om 'n swak of satellietsein te hoor en 'n QSO te maak, te ervaar.

Amateursatelliete het 'n baie wye voetspoor en ten einde wêreldwye steuringsvrye bedryf te verseker, is sekere segmente van die verskillende frekwensiebande hiervoor opsy gesit.

Byvoorbeeld, vir FM-kommunikasie met die internasionale ruimtestasie en ander bemande ruimtetuie is 145,200 MHz toegewys vir simpleksbedryf en 145,200/145,800 MHz vir transponeerdertipe bedryf. Moet asb. nie hierdie frekwensies vir gewone aardgebonde QSO's gebruik nie. Hierbenewens is die frekwensies 145,800 tot 146,000 MHz uitsluitlik gereserveer vir die amateursatellietdiens.

Soortgelyk is in die 70 cm band alle frekwensies van 435,000 tot 438,000 MHz ook gereserveer vir die satellietdiens.

Bandplanne is internasionaal deur die IARU deur onderlinge ooreenkoms gekoördineer. Bandplanne is beskikbaar by www.sarl.org.za, kyk in die linkerhandse kolom vir lisensies, maak die bladsy oop en klik op bandplanne.

AFDELING 6 BANDBEPLANNINGSKOMITEEVERGADERING

Die volgende vergadering van die bandbeplanningskomitee vir afdeling 6 sal op Saterdag 9 Junie van 09:00 tot 12:00 by die NARS gehou word. Alle klubs in die afdeling word uitgenooi om 'n verteenwoordiger na die vergadering te stuur.

Vir verdere inligting, kontak Piet Badenhorst ZS6PJB, by 082 574 4829 of per e-pos aan zs6pjb@gmail.com.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld wissel van stil tot onrustige vlakke gedurende 12 tot 13 Maart. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 en 15 meter is die beste keuse vir DX met moontlike kort 20 meter openinge vanaf 06:00 SAT na die Ooste. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort 15 en 20 meter openinge na Europa. Vanaf 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 meter openinge na die Verenigde State. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Alhoewel die DX-toestande tans nie te opwindend is nie, is dit nou die beste tyd om saans 80 m kontakte vir jou 80 m WAZS te maak. Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Junie - SARL-Jeugdag;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname;
2 Augustus - Klas B RAE;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel en vertaal is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003